

Dapper & Jacquelien
Jy word hartlik uitgenooi na die huweliksbevestiging, wanneer ek Johannes Jacobus (Dapper) de Wet, vir Jacquelien Joharina Fourie wettig my vrou mag noem.
#DeWet-iging


Ons liefdesverhaal
'n Boodskap van die bruidegom.
Die lewe loop soms op die mooiste, vreemdste maniere.
Nooit sou ek in 2018 kon dink dat die meisie wat my oog gevang het by ’n skeinat-ekstraklas, oor die volgende sewe jaar my lewe só sou verander nie: van klasmaat, na vriendin, na my meisie, my verloofde… en nou, op 11 April, my vrou.
Van vriende tot vennote verbind in die lewe se mooiste kontrak — die huwelik. Mag ons saam groei, saam leer, en saam die Here eer in alles wat ons doen.
Ek onthou hoe ek altyd my ouers gevra het: “Hoe weet mens as iemand die regte een is?” My Ma se antwoord was eenvoudig: “As jy weet, dan weet jy.” En hoe beter ek vir Jacquelien leer ken het, hoe meer het ek besef — sy is die een. As ek van buite na ons pad saam kyk, beskryf ek dit in een woord: Groei.
Groei van vriendskap tot lewensvennootskap; groei in mekaar en vir mekaar; en saam groei in ons verhouding met ons Hemelse Vader.

Ons gevolg

Winé du Toit
Bruid se vriendin

Janke Fourie
Bruid se skoonsuster

Lisa van der Merwe
Bruid se vriendin

Christine de Wet
Bruidegom se suster

Herman Viljoen
Bruidegom se vriend

Henry Slabbert
Bruidegom se aanstaande swaer

Jason van der Merwe
Bruidegom se vriend

Herman Fourie
Bruid se broer

Welvaart Fourie
Bruid se broer se kind







Die storie agter Clarens
'n Boodskap van die bruid.
Clarens het nog altyd ’n besondere plek in my hart gehad en in my Pa s’n ook. Dit was ons gesinswegbreek plek, ons stil plek tussen die berge waar die wêreld stadiger draai en alles net bietjie ligter voel. Teen die einde van 2024, toe ek en Dapper begin praat het oor trou, het ek dit met my ouers begin deel en hy met syne. My Pa het met sy bekende humorsin gesê hy sal net vir Dapper "ja" sê om met my te trou, as ons in Clarens trou. Ons almal het natuurlik geweet dit was ’n grap — hy sou ongeag ja sê.
Maar ná sy afsterwe in Desember 2024 het Dapper nie die geleentheid gehad om hom die vraag te vra nie. Vinnig het daardie grappie vir ons ’n baie dieper betekenis gekry. Vir Dapper is dit nou ’n teken dat hy my Pa se seën het, en vir my is Clarens die plek waar sy teenwoordigheid die naaste voel. Al kan hy my nie fisies by die paadjie afloop nie, weet ek hy sal daar wees, in gees, in die wind deur die bome en tussen die mooi berge van die Oos-Vrystaat.
Ons liefdesvoorbeelde
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belange nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, vedra alles. Die liefde vergaan nooit nie.
Franco & Hanlie Fourie
Bruid se ouers

My ouers se liefde is vir my die mooiste voorbeeld van ware, onvoorwaardelike liefde. ’n Liefde wat deur die jare heen getoets, gevorm en versterk is. In elke seisoen, in tye van vreugde sowel as swaarkry. Hulle het mekaar altyd gekies, ongeag watter veranderinge, uitdagings en struikelblokke of moeilike tye hulle moes deurmaak. Dis nie ’n perfekte liefde nie, maar dit is getrou, eerlik en ewig.
Hulle het vir my gewys wat ware liefde beteken: om mekaar elke dag nuut te kies, om dankbaar te wees vir die eenvoudige seëninge, en om jou verhouding te bou op die fondasie van vertroue in ons Hemelse Vader. Hulle het my geleer dat liefde nie net in groot oomblikke lê nie, maar in die klein dade van genade en begrip.
Dankie vir julle voorbeeld, van liefde wat ek van kleins af kon aanskou. Dat dit nie perfek hoef te wees, net opreg. Ek vat elke liefdesfaset saam met my in die huwelik in met dieselfde geloof, dankbaarheid en toewyding wat ek in julle gesien het.
Pieter & Johlida de Wet
Bruidegom se ouers
Bok van Blerk beskryf die liefde mooi wanneer hy sê dis soos sy ma hom geleer het, en soos sy pa haar hanteer het — dis liefde deur ’n boer se oë.'Vir ’n beter voorbeeld in my kinderjare kon ek nie vra nie: ’n gentleman-pa en ’n vrou na God se hart.
Hulle liefde was eenvoudig, eerlik en sterk. Dis nie ’n liefde van groot woorde of duur geskenke nie, maar een wat wys in die klein dinge: in die oggendkoffie wat wag, in daar wees vir mekaar, in die hand wat altyd help.
Ek het geleer dat liefde nie altyd in die praat lê nie, maar in die doen. In getrouheid, respek, en die wete dat jy nie alleen deur die lewe stap nie. Dis die soort liefde wat nie net voel nie, maar bou: huis, familie en toekoms.
So het ek gesien hoe my pa my ma liefhet, en hoe sy lojaal tot hom is. Dis daardie soort liefde wat ek ek hoop om eendag self te leef — ’n liefde met wortels diep in geloof, nederigheid,eerbaarheid en Gesin eerste.

Oranje gasteplaas
Die venue

Hoe om daar te kom
Kontak: Elsa/Laurine - 084 712 0427 E-pos: bookings@oranjegasteplaas.co.za Webtuiste: www.oranjegasteplaasco.za
Oranje is 20km vanaf Clarens en 14km vanaf Fouriesburg, met 'n asemrowende 360 grade uitsig oor die berge van die Oos-Vrystaat.
Verblyf opsies
Weens beperkte verblyfkapasiteit kan ons ongelukkig nie alle gaste op die venue akkommodeer nie. Die verblyf by Oranje Gasteplaas sal daarom vir die naaste familie en gevolg gereserveer wees. Indien u in hierdie kategorie val, sal u binne ’n week ná ontvangs van die uitnodiging ’n boodskap ontvang met u aangewese kamer op die venue. U kan daarna direk met Oranje Gasteplaas in verbinding tree vir verdere reëlings.
Vir diegene wat oorweeg om te kamp, is daar 8 kampeerstaanplekke beskikbaar by Oranje Gasteplaas. Indien u graag hiervan gebruik wil maak, kontak asseblief die bruidspaar vir meer inligting.
Ons nooi gaste wat nie op die venue sal oorbly nie, om na die alternatiewe verblyfopsies hieronder te kyk.



































